Cyril se eerste 100 dae – ’n oorsig

Klok vir Cyril se eerste ronde lui: 100 dae verstryk

Pres. Cyril Ramaphosa se eerste 100 dae as president ná vanjaar se verkiesing verstryk 1 September 2019 om middernag. 

Willem Jordaan en Jaco Grobbelaar het langs die politieke kryt gaan sit.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en Jaco Grobbelaar, grafiese kunstenaar.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en Jaco Grobbelaar, grafiese kunstenaar van Grafika24.

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en Jaco Grobbelaar, grafiese kunstenaar van Grafika24.

Om ’n president se eerste 100 dae in die amp nou­geset dop te hou is uiteraard geen wetenskaplike maatstaf van sy of haar sukses nie.

Dis wel ’n interessante en insiggewende oefening, aangesien presidente dikwels in die eerste drie maande van ’n presidentskap ’n soort wittebroodsperiode beleef waartydens hulle nog die golf van ’n verkiesingsoorwinning ry en nog nie vasgevang geraak het in die kap en steek van die politiek nie.

Die simboliese tydperk van 100 dae het waarskynlik beslag gekry in die aanvang van Franklin D. Roosevelt se presidentskap in Amerika. Toe Roosevelt sy amp in 1933 opgeneem het, is hy in die gesig gestaar deur die verwoestende uitwerking van die Groot Depressie en moes ingrypend optree om dié probleme te begin takel. In ’n radio-onderhoud het hy verwys na wat hy in sy eerste 100 dae in die amp vermag het.

Die simboliek van die tydperk het bly kleef. Soos wat die histo­rikus Anthony Badger skryf in FDR: The First Hundred Days: “The first hundred days of the New Deal have served as a model for future presidents of bold leadership and executive-legislative harmony.”

Ewe sterk is die simboliek van die raakpunte tussen die krisis waarin Amerika in 1933 verkeer het en die fiskale afgrond waaroor Suid-Afrika huiwer. Dit is wel so dat pres. Cyril Ramaphosa voor sy inhuldiging vanjaar al lank in die amp was, maar die veldtog wat hy en die ANC in die verkiesing gevoer het, was juis dat hy ’n sterk mandaat nodig het om die land aan sy skoenveters op te hef. As hy die mandaat kry, kan hy skouers oopmaak, is gesê. Dis laaste rondte in die “Last Chance Saloon”, en Ramaphosa is ál ou wat ons uit die gemors kan kry, was die boodskap.

Dié mandaat het hy wel gekry, en met sy inhuldiging op Saterdag 25 Mei het die uurglas van sy 100 dae begin loop.

Die onmiddellike verandering in die stemtoon wat ingetree het met Ramaphosa se eerste dag in die presidensie verlede jaar is konsekwent voortgesit.

Op openbare verskynings, Twitter en Facebook bly Rama­phosa gepoleerd en genuanseerd, en in sy boodskappe vanaf wêreldverhoë straal hy staatsmanskap uit. Die skrille kontras met Zuma se onbeholpe gestotter bly baie opvallend – of dit nou ’n ontmoeting met jongmense is (dag 26), ’n toespraak op Vrouedag (dag 77), ’n staatsbesoek aan Tanzanië en die G7 (dag 83), of ’n gelukwensing aan die Comrades-wenners (dag 16).

Ook wat betref die hoeveelheid werk wat Ramaphosa verrig en die ontmoetings wat hy luidens sy dagboek inwerk, steek hy Zuma by verre die loef af.

Dis wonderlik wat moontlik is as jy nie so baie tyd aan Gupta-belange hoef te bestee nie, of hoe?

Maar dit is helaas nie die arena waarbinne Ramaphosa sy politieke oorlewing of sy uiteindelike sukses gaan beslis nie.

Sy sukses al dan nie gaan eerder bepaal word eerstens in regstreekse konfrontasie met sy politieke opponente in die ANC self, en tweedens deur sy vermoë om sy belofte van ekonomiese herlewing gestand te doen.

Die eerste punt het twee onderdele: In die eerste plek moet hy vanselfsprekend die magsoorwig in die party (beide in die nasionale uitvoerende komitee en in die ANC se parlementêre koukus) in sy guns hou. Tweedens moet hy nie toelaat dat die Zuma-kamp, wat Ace Magashule as sy vernaamste veghoender inspan, die aard van die krag­meting bepaal nie.

"Wanneer hy die slag sy hande loswoel uit die greep van die swetende Magashules en andere, tref hy hard en sekuur."

’n Moeilike balanseertoertjie, want in sommige gevalle kan dié twee doelwitte dalk regstreeks teenstrydige aksies van Rama­phosa verg. In dié opsig veg hy dalk van meet af aan vanaf die agtervoet.

Te midde van die openbare beskermer (OB) wat vroeg reeds in die 100 dae haar opstoppers oor die Bosasa-skenking in Rama­phosa se rigting gestuur het, het Ramaphosa dalk toegelaat dat die Magashule-hoek sy beweeglikheid in dié politieke boksgeveg te veel aan bande lê. Maga­shule-hulle stoot hom te gereeld in die kryt rond en bind sy arms sodat ons president nie met sy eie gevegstyl slim kan boks nie.

Die “rope-a-dope” rondom David Mabuza se inhuldiging (dag 4), die lae hou met uitdagende ondermyning van Ramaphosa se boodskap oor die Reserwebank (dag 11), die hantering van die OB se Bosasa-verslag (dag 16 en 56) en die Gordhan-verslag (dag 35) is enkele voorbeelde. Om nie te praat van hoe die oorblyfsels van die Zuptas die CR17-skenkings nou teen Ramaphosa inspan nie.

Intussen vervaag die beeld van ’n nuwe daeraad te veel en die ou mantras van “Cyril maal stadig, maar hy maal fyn” of “Cyril is ’n langplanman” boet ook oortuigingskrag in.

En dis natuurlik nie dat Ramaphosa níks doen of sê nie. Inteendeel: Wanneer hy die slag sy hande loswoel uit die greep van die swetende Magashules en andere, tref hy hard en sekuur.

Kyk byvoorbeeld na sy reaksie op Busisiwe Mkhwebane (dag 68); sy antwoord op Maga­shule se bogpraatjies oor die Reserwebank (dag 13) en sy heraanstelling van LesetyaLesetja Kganyago as president van die Reserwebank (dag 47). Kyk na sy onomwonde versekering oor die CR17-skenkings (dag 89). Punt is egter: Ramaphosa moet dít meer gereeld en konsekwent doen om ook die geveg na die Magashules te neem. Dit geld nie net dinge soos die ratte van die reg wat agter die skerms weer begin draai met die heropbou van die nasionale vervolgingsgesag nie – dit geld ook die mate waartoe Ramaphosa en span beheer oor die politieke diskoers neem. Hou jou vyande in die ANC met volgehoue druk teen die toue.

Wat Ramaphosa se beloofde heropbou van die ekonomie betref, moet ’n mens erken die skade van die nege verlore jare is enorm en die uitdagings gaan nie oornag te bowe gekom word nie.

Maar wanneer jy met ’n ekonomiese en fiskale krisis van dié omvang sit, kan jy eenvoudig nie bekostig om dubbelsinnige boodskappe na buite te stuur nie.

Niemand weet byvoorbeeld steeds wat presies Ramaphosa-hulle met grond beoog nie, en sy onheilspellend vae antwoord oor pensioenfondse (dag 89) in ’n parlementêre vraesessie móét kommer wek. 

Die president sal dus vinniger van die “moeilike besluite” waarvan hy in sy staatsrede (dag 27) gepraat het, moet begin neem om omvattende beleids­onsekerheid uit die weg te ruim.

Finansminister Tito Mboweni se groeiplan wat hy soos ’n haas uit die hoed geruk het, toon heelwat belofte in dié verband, mits dit deurgevoer word.

Die hoop bestaan dus steeds. Mag Ramaphosa dit nie laat beskaam nie.

Dag 1: Saterdag 25 Mei 2019

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en Ramaphosa. | Foto: Die Presidensie

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en Ramaphosa. | Foto: Die Presidensie

  • Dít het gebeur: Ramaphosa word op Loftus Versfeld ingehuldig as president van Suid-Afrika (foto bo).
  • Dít het hy gedoen: Die president twiet ’n foto van die Bybel wat hoofregter Mogoeng Mogoeng hom as geskenk gegee het.
  • Dít het hy gesê: In sy inhuldigingstoespraak sê hy: “Ek beloof plegtig hier dat ek julle sal dien, skouer aan skouer saam met julle sal werk om die Suid-Afrika te bou wat ons almal wil hê en verdien.” 

Dag 2: Sondag 26 Mei

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 28 Mei 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 28 Mei 2019

  • Dít het gebeur: Ramaphosa sit gesprekke oor sy kabinetskeuse voort.
  • Dít het hy gesê: Op Twitter: “ ’n Spesiale bedanking gaan aan hoofregter Mogoeng Mogoeng vir sy rol in die inhuldigingseremonie en vir sy toesig oor die prosesse om die nuwe administrasie in werking te stel.”

Dag 4: Dinsdag 28 Mei

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 31 Mei 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 31 Mei 2019

  • Dít het gebeur: David Mabuza, voormalige adjunkpresident, word as LP ingehuldig nadat hy vroeër versoek het om eers sy naam by die integriteitskomitee skoon te kry. Pravin Gordhan bring ’n hersieningsaansoek teen die OB se bevinding dat hy onbehoorlik opgetree het.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa sit oorlegpleging oor sy kabinet en ontmoetings met kandidate voort

Dag 5: Woensdag 29 Mei

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa kondig ’n verkleinde kabinet aan en laat verskeie bedenklike aanstellings in die Zuma-era uit. Hy wens die “formidabele” Proteas sterkte toe vir die Wêreldbeker-kriekettoernooi.
  • Dít het gebeur: Die president se kabinetsaankondiging kry plaaslik en internasionaal oorwegend positiewe reaksie. Sommiges waarsku dat dit te veel politieke kompromieë met die Magashule-faksie bevat.
  • Dít het hy gesê: “Die mense wat ek vandag aanstel moet besef dat die verwagtinge van Suid-Afrikaners nog nooit hoër was as nou nie. Hulle het ’n enorme verantwoordelikheid op hul skouers.
Ace Magashule

Ace Magashule | Foto: Alon Skuy / Sunday Times

Ace Magashule | Foto: Alon Skuy / Sunday Times

Dag 8: Saterdag 1 Junie

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa sit ’n gespanne vergadering van die NUK as voorsitter voort. Hy vra vir dissipline in die party en na berig word is Ace Magashule (foto bo), ANC-hoofsekretaris, die leviete voorgelees oor “ondermynende uitlatings”.

Dag 10: Maandag 3 Junie

  • Dít het gebeur: Landbou- en belange-organisasies vra vir ’n ingryping deur Ramaphosa in plaasaanvalle. Cosatu-vakbonde begin dreig met ’n landwye staking as die Ramaphosa-regering nie afsien van sy plan om staatsdiensposte drasties te besnoei nie.
  • Dít het hy gedoen: By navraag sê die presidensie aanvalle op plase is ’n saak vir die polisie. Hy is nie van voorneme om hom in die besonder daaroor uit te laat nie.

Dag 11: Dinsdag 4 Junie

  • Dít het gebeur: Dit kom aan die lig dat Suid-Afrika ’n skerp insinking in BBP beleef het, én Ace Magashule sê die ANC het besluit om die mandaat van die Reserwebank te verbreed om voorsiening te maak vir “kwantiteitsverslapping” (sic). Die rand val skerp. Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se ekonomiese komitee, weerspreek Magashule blitsvinnig en sê kwantitatiewe verslapping is nié op die ANC-agenda nie.
  • Dít het hy gedoen: Die presidensie stuur op Twitter Ramaphosa se goeie wense aan die Moslem-gemeenskap vir die viering van Eid ul Fitr, die einde van die maand van Ramadaan.

Dag 12: Woensdag 5 Junie

Foto: Siyabulela Duda / GCIS

Foto: Siyabulela Duda / GCIS

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa vergader met die uitvoerende hoofde van 20 staatsondernemings om hul potensiële bydrae tot Suid-Afrika se ekonomiese herlewing te bespreek. Hy benadruk dat verskeie van hierdie ondernemings grondliggende risiko’s vir die ekonomie inhou.
  • Dít het hy gesê: “Die ontmoeting met staatsondernemings het verskeie kritieke hindernisse geopper wat staatsondernemings inperk om groei en ontwikkeling te dryf. Dít strek van onvoldoende kapitalisering en swak bestuurspraktyk tot verouderde wetgewing en politieke inmenging. As ’n regering sal ons met die bestuur van staatsondernemings werk om dié probleme op te los”.

Dag 13: Donderdag 6 Junie

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 8 Junie 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 8 Junie 2019

  • Dít het gebeur: Die rand val deur die perk van R15 teenoor die dollar.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa begin vure doodslaan oor die status van die Reserwebank en sê dit is nie wenslik om nou aan die mandaat te torring nie.
  • Dít het hy gesê: “Ons sal graag wil hê dat die Reserwebank openbare besit word. Ons weet egter dat daar ’n prys hiervoor betaal sal moet word en gegewe ons huidige ekonomiese en fiskale situasie sal dit eenvoudig net nie wys wees nie.”

Dag 16: Sondag 9 Junie

Wenner van die Comrades-vroueresies, Gerda Steyn. | Foto: Anesh Debiky / Gallo Images

Wenner van die Comrades-vroueresies, Gerda Steyn. | Foto: Anesh Debiky / Gallo Images


Dag 18: Dinsdag 11 Junie

  • Dít het gebeur: Dit kom aan die lig dat die ANC se nasionale werkkomitee ’n ondersoek gelas het na of Ace Magashule, hoofsekretaris, by die stigting van die African Transformation Movement betrokke was.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa kondig aan hy het die presidensiële adviespaneel se verslag oor grondhervorming en landbou ontvang en sê dit sal openbaar gemaak word nadat dit aan die kabinet voorgelê is.
  • Dít het hy gesê: “Die verslag is ’n belangrike stap vorentoe in ons strewe om die erfsonde reg te stel deur oplossings eie aan Suid-Afrika én, die heel belangrikste, om ’n samelewing te bou waarin almal kan deel in die rykdom van ons grond.”

Dag 21: Vrydag 14 Junie

Ramaphosa en Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. | Foto: Die Presidensie

Ramaphosa en Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. | Foto: Die Presidensie

  • Dít het gebeur: Roelf Meyer, Ramaphosa se mede-onderhandelaar by Kodesa, sê dit is buite die kwessie dat Ramaphosa sal toelaat dat Suid-Afrika dieselfde weg as Zimbabwe, Venezuela of Kuba sal volg.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa vergader met Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, en die bank se raad. Hy gee die onderneming om die onafhanklikheid van die SARB te beskerm.

Dag 25: Dinsdag 18 Junie

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 1 Augustus 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 1 Augustus 2019

  • Dít het gebeur: Die Burger berig ’n hersiene weergawe van die ministeriële handboek bevat ingrypende verminderings in die bedrae wat ministers mag bestee aan dinge soos voertuie en reise. In Augustus kom dit aan die lig dat Ramaphosa die hersiene ministeriële handboek teruggestuur het vir verdere besnoeiings.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa vergader met lede van Eskom se raad oor die krisis by die elektrisiteitsverskaffer.
  • Dít het hy gesê: Ramaphosa wens Suid-Afrika se vrouesokkerspan op Twitter geluk met hul vertoning in die Wêreldbeker-toernooi: “Ons is trots op jul poging. Julle het tot die einde baklei en julle is wenners in ons oë. Julle het na die sterre gereik en dit geraak.”

Dag 26: Woensdag 19 Junie

Foto: GCIS

Foto: GCIS

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa vergader met 200 jong mense om voorstelle te hoor oor hoe Suid-Afrika se probleme gepak moet word.
  • Dít het hy gesê: Oor die staatsrede: “Môre se toespraak is ’n belangrike een, veral in ag genome waar ons staan met die ekonomie wat nie goed vaar nie … Dit is die oomblik waarin ons met groter vasberadenheid moet bou aan die Suid-Afrika wat ons almal verdien.”

Foto: Ayanda Ndamane / ANA

Foto: Ayanda Ndamane / ANA

Dag 27: Donderdag 20 Junie

  • Dít het gebeur: Die presidensie sê die staat sal die koste van een prokureur en twee advokate dek as oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie sou gaan getuig.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa lewer sy eerste staatsrede ná die verkiesing.
  • Dít het hy gesê: “Ek droom van ’n Suid-Afrika waar die eerste splinternuwe stad van die demokratiese era sal verrys met wolkekrabbers, skole, universiteite, hospitale en fabrieke … Het die tyd nie gekom om só ’n slimstad te bou met die tegnologie van die vierde nywerheidsrevolusie nie?”
Adv. Busisiwe Mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. | Foto: Jaco Marais / Foto24

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. | Foto: Jaco Marais / Foto24

Dag 29: Saterdag 22 Junie

  • Dít het gebeur: Die presidensie bevestig Ramaphosa het uitstel gekry om te antwoord op die OB se vrae rakende die betaling van R500 000 van Bosasa.

Dag 33: Woensdag 26 Junie

Die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu. | Foto: Lisa Hnatowicz / Foto24

Die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu. | Foto: Lisa Hnatowicz / Foto24

  • Dít het gebeur: Die ouditeur-generaal maak bekend dat slegs 8% van die land se 257 munisipaliteite skoon oudits ontvang het.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa lewer repliek in die debat oor sy staatsrede.
  • Dít het hy gesê: Hy lê sterk klem op ekonomiese herstel: “Ons moet die regte goed doen; dit goed doen en dit sonder verwyl doen. Die eenvoudige werklikheid is dat ons groei in die ekonomie moet stimuleer om werk te skep om geleenthede vir nuwe besighede te gee om te ontstaan en om die stand van ons openbare geldsake te verbeter.”

Dag 34: Donderdag 27 Junie

Foto: Elmond Jiyane / GCIS

Foto: Elmond Jiyane / GCIS

  • Dít het gebeur: Ramaphosa kom in Osaka, Japan, aan waar hy die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die G20-beraad lei.
  • Dít het hy gedoen: Die president dien sy antwoord aan adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, in vir haar ondersoek na ’n Bosasa-skenking waaroor Ramaphosa na bewering die parlement mislei het.
  • Dít het hy gesê: “Die president se voorlegging bevat bevestigende beëdigde verklarings en stawende dokumente wat, na sy mening, daartoe sal lei dat die kwessie so gou moontlik afgehandel sal word,” lui ’n verklaring van die presidensie.

Ramaphosa vergader met Brics-leiers by die G20-beraad in Japan. | Foto: Mikhail Klimentyev / AP

Ramaphosa vergader met Brics-leiers by die G20-beraad in Japan. | Foto: Mikhail Klimentyev / AP

Dag 35: Vrydag 28 Junie


Dag 38: Maandag 1 Julie

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa sê hy sal eers tugstappe – indien nodig – teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, neem nadat sy hersieningsaansoek teen die bevindinge van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, afgehandel is. Dit kom aan die lig dat die OB eis dat Ramaphosa ’n interdik bekom teen haar bevindings oor Gordhan as hy nie daaraan uitvoering wil gee nie.

Dag 42: Vrydag 5 Julie

Foto: Jairus Mmutle / GCIS

Foto: Jairus Mmutle / GCIS


Dag 47: Woensdag 10 Julie

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. | Foto: SA Reserwebank

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. | Foto: SA Reserwebank

  • Dít het gebeur: Vooraanstaande sakeleiers sê hulle is gefrustreerd met die stadige pas van ekonomiese hervorming onder Ramaphosa.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa stel Lesetja Kganyago aan vir ’n termyn van nog vyf jaar as president van die Reserwebank.
  • Dít het hy gesê: Die president bestempel die aanstelling van Kganyago en sy adjunkte as ’n skuif “om stabiliteit by die bank te handhaaf”.

Dag 48: Donderdag 11 Julie

Foto: SA Weermag

Foto: SA Weermag


Dag 52: Maandag 15 Julie

Oud-president Jacob Zuma getuig voor die Zondo-kommissie. | Foto: Felix Dlangamandla / Foto24

Oud-president Jacob Zuma getuig voor die Zondo-kommissie. | Foto: Felix Dlangamandla / Foto24

  • Dít het gebeur: Oudpres. Jacob Zuma begin sy getuienis voor die Zondo-kommissie met ’n lang verklaring dat drie intelligensieagentskappe daarop uit was om van hom ontslae te raak, dat daar moordkomplotte teen hom gesmee word, en dat sekere agente in die ANC geplant is om uiteindelik ook leiers te word.
  • Dít het hy gedoen: ’n Proklamasie wat deur Ramaphosa gemagtig is baan die weg vir die spesiale ondersoekeenheid om ’n verdagte Vrystaatse regeringskontrak van R255 miljoen te ondersoek. Die kontrak word verbind met Ace Magashule, ANC-hoofsekretaris.

Dag 53: Dinsdag 16 Julie

Daryl Impey wen skof nege van die Tour de France. | Foto: Marco Bertorello / AFP

Daryl Impey wen skof nege van die Tour de France. | Foto: Marco Bertorello / AFP

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa dien hofstukke in vir ’n dringende aansoek dat die hof verklaar dat hy wel uitvoering gegee het aan die openbare beskermer se bevinding rakende Pravin Gordhan.
  • Dít het hy gesê: In ’n gelukwensing aan Daryl Impey met sy sege in skof nege van die Tour de France: “Hy het die vlag hoog laat wapper en die die land trots gemaak

Dag 54: Woensdag 17 Julie

Die Burger se voorblad op 17 Julie 2019 oor die dood van Johnny Clegg.

Die Burger se voorblad op 17 Julie 2019 oor die dood van Johnny Clegg.


Dag 55: Donderdag 18 Julie

Ramaphosa tydens sy besoek aan die Rooi Kruis-kinderhospitaal. | Foto: Die Presidensie

Ramaphosa tydens sy besoek aan die Rooi Kruis-kinderhospitaal. | Foto: Die Presidensie

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa bring besoek aan RX Radio, radiostasie van die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Hy lewer repliek in die debat oor die presidensiële begrotingspos en sê hy het volle vertroue in die integriteit van min. Pravin Gordhan.
  • Dít het hy gesê: “Ek het nog altyd en sal altyd moorde op plase veroordeel … Elke lewe in hierdie land het gelyke waarde en elke geweldsmisdaad moet gelyk en onomwonde veroordeel word.”

Dag 56: Vrydag 19 Julie

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. | Foto: Morapedi Mashashe

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. | Foto: Morapedi Mashashe

  • Dít het gebeur: Die openbare beskermer bevind dat Ramaphosa die parlement mislei het oor Bosasa se skenking van R500 000 aan sy CR17-veldtog, en dat hy die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het.
  • Dít het hy gedoen: Die presidensie reik ’n verklaring uit waarin hulle die OB beskuldig dat sy nie voldoende kennis geneem het van Ramaphosa se antwoord op haar voorlopige verslag nie.

Dag 58: Sondag 21 Julie

Foto: GCIS

Foto: GCIS

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa kondig aan dat hy dringende regstappe gaan doen om die openbare beskermer se bevindings op hersiening te neem.
  • Dít het hy gesê:Nadat ek die verslag deeglik bestudeer het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit grondliggend en onherroeplik vol gebreke is.”

Dag 59: Maandag 22 Julie

Die Burger se voorblad op 23 Julie 2019.

Die Burger se voorblad op 23 Julie 2019.

  • Dít het gebeur: Die konstitusionele hof handhaaf die hofuitspraak dat die openbare beskermer in kwader trou opgetree en “die perke oorskry het” in haar Absa/Bankorp-verslag. Sy word persoonlik verantwoordelik gehou vir 15% van die Reserwebank se regskoste.

Dag 61: Woensdag 24 Julie

Oudminister Derek Hanekom | Foto: GCIS

Oudminister Derek Hanekom | Foto: GCIS

  • Dít het gebeur: In ‘n laatnag-verklaring beskuldig Ace Magashule, ANC-hoofsekretaris, vir oudmin. Derek Hanekom dat hy ’n kwaksalwer is wat die ANC wil verdeel. Die openbare beskermer gee in ’n eedsverklaring te kenne dat Ramaphosa sinistere motiewe het in sy besluit om nie op te tree teen min. Pravin Gordhan alvorens die regsproses nie afgehandel is nie.

Dag 62: Donderdag 25 Julie

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 30 Julie 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 30 Julie 2019


Dag 63: Vrydag 26 Julie

Ajay en Atul Gupta | Foto: Muntu Vilakazi / City Press

Ajay en Atul Gupta | Foto: Muntu Vilakazi / City Press

  • Dít het gebeur: Die Zondo-kommissie maak ’n beëdigde verklaring van Ramaphosa op sy eie versoek bekend.
  • Dít het hy gesê: My interaksies met die Gupta-broers was by geleenthede waar niks met enige gevolg bespreek is nie. Ek het nooit met hulle gesprekke gevoer buiten om te groet, grappies te maak of om beleefd te wees nie.”

Dag 66: Maandag 29 Julie

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 31 Julie 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 31 Julie 2019

  • Dít het gebeur: Die hooggeregshof staan ’n dringende interdik toe teen die openbare beskermer se bevinding dat Ramaphosa vir min. Pravin Gordhan moet dissiplineer. Mkhwebane sê die regter het gefouteer.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa spreek die ADEA-konferensie oor hoërskoolonderrig toe.
  • Dít het hy gesê: “Ongelukkig kan ons (Afrika-)ekonomieë ’n beduidende proporsie jong mense nie absorbeer nie omdat die onderrigstelsel nie met ekonomiese behoeftes belyn is nie.”

Dag 67: Dinsdag 30 Julie

Collen Maine, die leier van die ANC-jeugliga. | Foto: Nkosingiphile Sibalukhulu

Collen Maine, die leier van die ANC-jeugliga. | Foto: Nkosingiphile Sibalukhulu


Dag 68: Woensdag 31 Julie

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. | Foto: News365

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. | Foto: News365

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa opper ernstige kommer in hofstukke oor adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, se begrip van die reg.
  • Dít het hy gesê: “Korrupsie en geldwassery is twee afsonderlike regsbegrippe. Deur die twee te verwar het die openbare beskermer ’n ernstige wanbegrip van die reg geopenbaar.”

Ramaphosa in Whittlesea, Oos-Kaap. | Foto: Siyabulela Duda

Ramaphosa in Whittlesea, Oos-Kaap. | Foto: Siyabulela Duda

Dag 71: Saterdag 3 Augustus

  • Dít het gebeur: News24 berig oor e-posse waarluidens dit glo blyk dat Ramaphosa wel kennis gedra het van belangrike aspekte van die CR17-insamelingsveldtog, insluitend die identiteit van belangrike skenkers. News24 sê dit kan die verdediging dat Ramaphosa op ’n armlengte van die hele proses was, in gedrang bring.

Dag 73: Maandag 5 Augustus

  • Dít het gebeur: Die druk laai verder op dat die openbare beskermer moet bedank. In die jongste hofbeslissing teen adv. Busisiwe Mkhwebane staan die hooggeregshof in Pretoria ’n dringende aansoek van pres. Cyril Ramaphosa toe om die remediërende aanbevelings in haar verslag oor die R500 000-skenking van die Bosasa-grootbaas Gavin Watson aan sy CR17-veldtog tydelik op te skort hangende ’n hersieningsaansoek teen dié verslag.

Dag 75: Woensdag 7 Augustus

  • Dít het gebeur: Fred Mouton beeld Ramaphosa penarie só uit:

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 7 Augustus 2019

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 7 Augustus 2019


Dag 76: Donderdag 8 Augustus

President Ramaphosa en ANC KZN-voorsitter Sihle Zikalala arriveer by die Nazareth-kerk in Ekuvukeni, KwaZulu-Natal. | Foto: ANC

President Ramaphosa en ANC KZN-voorsitter Sihle Zikalala arriveer by die Nazareth-kerk in Ekuvukeni, KwaZulu-Natal. | Foto: ANC

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa ontvang ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat onderneem om Suid-Afrika te help herbou. Hy vergader met direkteurs-generaal en maan hulle om doelgerig en spoedeisend op te tree om ekonomiese herstel te bespoedig.

Dag 77: Vrydag 9 Augustus

Ramaphosa spreek die nasionale Vrouedagviering toe. | Foto: Die Presidensie

Ramaphosa spreek die nasionale Vrouedagviering toe. | Foto: Die Presidensie

  • Dít het gebeur: Dit kom aan die lig dat Ramaphosa die hooggeregshof in Pretoria genader het om te sorg dat sekere bankstate in die openbare beskermer se verslag oor die CR17-skenkersgeld nie openbaar gemaak word nie.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa spreek die nasionale Vrouedagviering toe.
  • Dít het hy gesê: “Laat ons die generasie wees wat seksisme, patriargie en geweld in alle vorme teen vroue beëindig. Laat óns die generasie wees wat die ekonomiese bevryding van alle Suid-Afrikaanse vroue bewerkstellig.”

Dag 78: Saterdag 10 Augustus

’n Verkiesingsplakkaat van die ANC word opgehang in Vosloorus, Gauteng. | Foto: Kathorus Mail

’n Verkiesingsplakkaat van die ANC word opgehang in Vosloorus, Gauteng. | Foto: Kathorus Mail

  • Dít het hy gedoen: Die presidensie sê in ’n verklaring hy het kennis geneem dat vertroulike inligting oor skenkers aan die media uitgelek is en dat van dié inligting veronderstel was om slegs in die besit van die openbare beskermer te wees en dat die inligting op ’n onwettige wyse bekom is.
  • Dít het hy gesê: “CR17 was ’n skoon veldtog en in die gees van die land se ryk demokratiese tradisies, naamlik verantwoordbaarheid, eerlikheid en integriteit.

Dag 80: Maandag 12 Augustus

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 18 Julie 1996

Spotprent deur Fred Mouton in Die Burger, 18 Julie 1996

  • Dít het gebeur: Die rand val na R15,46 teenoor die dollar.

Dag 82: Woensdag 14 Augustus

Pres. Ramaphosa met sy aankoms in Tanzanië. | Foto: Die Presidensie

Pres. Ramaphosa met sy aankoms in Tanzanië. | Foto: Die Presidensie

  • Dít het gebeur: Die openbare beskermer “teken ernstige beswaar aan teen insinuasies deur die president se prokureurs en die president self” dat sy bankstate van skenkers aan die CR17-veldtog onwettig bekom het.
  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa vertrek op ’n staatsbesoek na Tanzanië, waar hy ook die SAOG-leiersberaad bywoon.

Dag 84: Vrydag 16 Augustus

  • Dít het hy gesê: Ramaphosa twiet uit Tanzanië: “Die Marikana-tragedie staan uit as die donkerste oomblik van ons jong demokrasie. Vandag gedenk ons 44 van ons landgenote wat sewe jaar gelede gesterf het. Ons mag nooit weer toelaat dat só ’n tragedie ons tref nie.”

Dag 86: Sondag 18 Augustus

Pres. Ramaphosa saam met pres. John Magufuli van Tanzanië. | Foto: Die Presidensie

Pres. Ramaphosa saam met pres. John Magufuli van Tanzanië. | Foto: Die Presidensie

  • Dít het hy gesê: Ramaphosa ontken in Tanzanië dat “kwessies” met die openbare beskermer sy aandag van landsake aftrek: “Ek is verkies deur die mense van Suid-Afrika om hulle te dien, en met daardie werk gaan ek voort. Die saak is nou in die hande van die howe om ’n bevinding te maak.”

Dag 88: Dinsdag 20 Augustus

Die presidensiële koördineringsraad voor die Uniegebou. Foto: Die Presidensie

Die presidensiële koördineringsraad voor die Uniegebou. Foto: Die Presidensie

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa roep die presidensiële koördineringsraad byeen vir sy eerste vergadering sedert hy aangekondig het die regering wil dienslewering drastiese verbeter.
  • Dít het hy gesê: “As ministers, premiers, LUR’e en burgemeesters is dit óns taak om te sorg dat dit wat in die Grondwet uitgestippel word, aan uitvoering gegee word – samewerkende, oorlegplegende en gekoördineerde regering.”

Dag 89: Woensdag 21 Augustus

Pres. Ramaphosa arriveer by die parlement in Kaapstad. | Foto: Jeffrey Abrahams / Gallo Images

Pres. Ramaphosa arriveer by die parlement in Kaapstad. | Foto: Jeffrey Abrahams / Gallo Images

  • Dít het hy gedoen: Ramaphosa antwoord vrae van LP’s in die Nasionale Vergadering, en gee onder meer die versekering dat daar niks geskort het met skenkings aan die CR17-veldtog nie. ’n Dubbelsinnige antwoord oor of die regering pensioenfondse sal gebruik om sy skuld te help delg, laat wenkbroue lig.
  • Dít het hy gesê: “Die CR17-veldtog was ’n legitieme, versiende en noodsaaklike poging om die hernuwing van die regerende party te bevorder. Dit is onderneem onder moeilike omstandighede. Daar was geen wandade, geen misdadigheid en geen misbruik van openbare geld nie.”

Dag 93: Sondag 25 Augustus

Emmanuel Macron en Cyril Ramaphosa groet mekaar by die G7-beraad in Biarritz, Frankryk. | Foto: Rita Franca / NurPhoto

Emmanuel Macron en Cyril Ramaphosa groet mekaar by die G7-beraad in Biarritz, Frankryk. | Foto: Rita Franca / NurPhoto


Dag 94: Maandag 26 Augustus

Die wrak van Gavin Watson se Toyota Corolla. | Foto: Samkele Maseko / eNCA

Die wrak van Gavin Watson se Toyota Corolla. | Foto: Samkele Maseko / eNCA

  • Dít het gebeur: Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa (wat nou as African Global Operations bekend staan), sterf in ’n motorbotsing voor hy voor die Zondo-kommissie kon getuig oor beweerde enorme omkoopbetalings aan ANC-hoës.

Dag 97: Donderdag 29 Augustus

Finansminister Tito Mboweni vroeër vanjaar tydens sy begrotingstoespraak in die parlement. | Foto: Brenton Geach / Gallo Images

Finansminister Tito Mboweni vroeër vanjaar tydens sy begrotingstoespraak in die parlement. | Foto: Brenton Geach / Gallo Images

Dít het gebeur: Die openbare beskermer laat vaar haar aansoek in die konstitusionele hof teen die bevinding van regter Sulet Potterill waarluidens die OB se bevinding teen min. Pravin Gordhan “vaag, teenstrydig en onsinnig” is. ’n Nuwe plan vir ekonomiese groei wat finansminister Tito Mboweni in ’n verrassende stap aangekondig het, word in die algemeen positief ontvang.

Cyril 100 - 'n Oorsig,
'n spesiale projek deur
Die Burger en Netwerk24

Redakteur: Die Burger en samesteller: 
Willem Jordaan 
Grafika: Jaco Grobbelaar
Taalversorging: Susan Booyens 
Projekbestuur en webtuiste: Maryke Cumpsty 

Netwerk24 Hoofredakteur: Henriëtte Loubser

Teken in op Netwerk24 en kry élke dag onbeperkte toegang tot brekende nuus, sport, vermaak, menings en diepteontledings, asook die dagblaaie Die Burger, Beeld en Volksblad asook Rapport, die gemeenskapskoerante in jou streek, en gunsteling- Afrikaanse tydskrifte soos HuisgenootSarieWeg!, TuisKuier en  Landbouweekblad.

Netwerk24 – Alles op een plek